JAN HENDRIK VAN DER WESTHUIZEN

Jan Hendrik.jpg

DIE LANG KRONKELPAD TOT HIER

Elke storie het 'n begin. Myne begin aan die tafels van my ma en ouma, waar die begrip van Suid-Afrikaanse gasvryheid stadig maar seker my bewussyn binnegesypel het om die fondasie te vorm waarop ek JAN later sou bou. Dis hier waar ek, benewens die nederige kuns van bediening, ook geleer het hoe om 'n warm, hartlike atmosfeer te skep waarbinne mense die stof van die alledaagse lewe kan afskud alvorens hulle aansit vir goeie geselskap en smullekker kos.

Soos alle kreatiewe siele in Suid-Afrika, het ek mettertyd my weg na die Kaap gebaan. Ek het in Stellenbosch myself bekwaam in die kookkuns met 'n fokus op fyngebak, en toe aansoek gedoen vir 'n BA-graad in Toegepaste Ontwerp met 'n fokus in fotografie. Ek het baie tyd in die omliggende wynlande spandeer en hier 'n voorliefde vir wyn ontdek wat gelei het daartoe dat ek vir 'n paar jaar in die wynindustrie werksaam was. Intussen het ek my liefde vir die visuele kunste ontgin deur in die Kaap 'n paar eenmankunsuitstallings te hou waar my skilderye en fotos uitgestal is.

EEN TREE OP 'N SLAG

My unieke vaardigheidskombinasie het gelei tot 'n posisie as bydraende kosredakteur by ELLE Suid Afrika, waarna ek my sakke gepak het om aan te sluit by die proefkombuis van die hoofkantore van ELLE Internasionaal in Parys. Hierdie loopbaanskuif het my die geleentheid gegun om mede-stigter te word van COORD Event Direction, en Champagne PIAFF bekend te stel in Epernay.

DIE PAD VOORTENTOE

Die storie van hoe hierdie gretige Suid-Afrikaanse laaitie mettertyd sy eie restaurant in Nice, Frankryk, sou oopmaak is deurspek met struikelblokke, harde werk, deursettingsvermoë en meer as 'n bietjie suiwer geluk. Ek glo dat elkeen van ons deur die loop van ons lewens 'n paar geleenthede sal ervaar waar die sterre perfek in lyn is om ons drome te bewaarheid. Die noodlot sal jou met 'n paar subtiele stampe en stote op die regte tyd op die regte plek staanmaak, maar in daardie oomblik hang dit steeds van jou af om pens en pootjies in te spring - om jou oë toe te knyp, die veilige vesting van jou gemaksone agter te laat en te bewys hoe graag jy dit wil hê, ten spyte daarvan dat jy deurgaans jou eie vermoëns in twyfel trek.